Minstens een van die groot broodverspreiders se broodprys het verlede week stil-stil met bykans R1 "gerys". Die moontlikheid is goed dat mededingers in sy voetspore sal volg.
Volgens mnr. Tertius Carstens, uitvoerende direkteur van Pioneer Voedsel Bpk. (vervaardiger van onder meer Sasko-brood) het sy broodprys met gemiddeld 90 sent (sonder BTW) oor die groep se hele produkreeks gestyg. Dit kom neer op 'n styging van sowat R1,05 vir wit brood as BTW ingereken word.
Volgens Carstens duur dit sowat 'n maand voor die prysverhoging reg oor die land in werking tree.
"Hoofsaaklik was die afgelope tyd se groot styging in die koringprys die groot drywer. Onderliggend daaraan is die brandstofprys en verspreidingskoste."
Die koste van elektrisiteit, 'n groot deel van die produksiekoste, het ook aansienlik duurder geword.
Die prysverhoging kom te midde van verskeie internasionale stygings in die prys van brood. In Fuji sal verbruikers voortaan $0,70 (sowat R5,64) betaal vir brood wat nie in 'n plastieksak is nie. Brood in 'n plastieksakkie sal R5,72 kos. Dié verhoging word aan die styging in die prys van meel toegeskryf.
Die India Express waarsku dat inflasie mense seermaak, maar dat broodinflasie "mense doodmaak". Die broodprys in Indië het ook geklim.
Volgens mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende direkteur van die Nasionale Meulenaarskamer, is dit interessant dat die vier groot broodverskaffers, ten spyte van die hoër broodprys, in die eerste drie maande van die jaar 9 % meer brood verkoop het as in dieselfde tyd verlede jaar.
"Verbruik word nie benadeel nie. Dit mag wees dat daar nou minder hoender of vleis verkoop word en mense eerder goedkoper produkte, soos brood, koop. Ons sien egter nog nie 'n afname in mieliepap nie. Brood se verkope groei nog."
Volgens mnr. Nico Hawkins, bestuurder van bedryfsbediening by Graan SA, is dit moeilik om te voorspel of die graanprys met sy bullopie sal voortgaan.
"Die graanmarkte is baie wisselvallig en ek twyfel of dit weer sal verdubbel binne 'n periode van 'n jaar. Ek dink dit was eerder 'n strukturele verandering in die wêreldmarkte."
Landbouweekblad, 4 April 2008