Landbou
LBW se 'boetie' staan op eie bene


Landbouweekblad se "baba-boetie", die tydskrif Farming SA, staan vanaf April op sy eie voete. Dit word dan 'n "volwaardige" tydskrif deurdat dit dan nie meer saam met Landbouweekblad versprei gaan word nie. Farming SA het die afgelope sewe maande as 'n bylae tot Landbouweekblad verskyn en is onder 5 000 opkomende boere bekend gestel.

Aanvanklik sal Farming SA slegs by geselekteerde winkels in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap verkrygbaar wees. Die verspreiding sal mettertyd na die ander provinsies uitgebrei word. Om te verseker dat lesers Farming SA maklik in die hande kan kry, is dit dus beter om vir ses maande of 'n jaar lank daarop in te teken. (Intekenvorm is in Landbouweekblad beskikbaar).

Farming SA se teikenmark is boere oor die kleurgrens heen wat daarin belang stel om praktiese, basiese boerdery- en bestuursinligting te bekom — soos wat landbouvoorligters dit nog 15 tot 20 jaar gelede oorgedra het. Op verlede jaar se Bien Donne-ekspo in die Wes-Kaap het verskeie yuppies ("young, upcoming professionals") wat plase koop, aangedui dat hulle Farming SA leersaam vind. Die redaksie poog om elke maand artikels wat die hele landbouspektrum dek, op 'n interessante wyse vir die leser te verpak.

Besoek gerus ook Farming SA, Landbouweekblad, SA Jagter/SA Hunter en Landbou.com se stalletjie in Mei op die Nampo-Oesdag.

Landbouweekblad, 4 April 2008