Landbou
Wolboere moet aanpassings maak
Deur CHARL VAN ROOYEN (cvanrooy@landbou.com)

Mnr. Gawie Hugo, voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) in Mpumalanga, het op dié tak se kongres in Ermelo gesê boere en die wolbedryf moet aandag gee aan die kode vir goeie praktyke, - 'n vereiste van die verbruikerswêreld - meer markgerig vir nismarkte produseer en oor dalende wolproduksie besin. "Is ons tevrede en hoe ver kan produksie daal sonder dat dit ons benadeel? Grondhervorming en mynbou strem kommersiële produksie in Mpumalanga," het hy gesê.

Wol- en vleispryse is goed, maar boere is steeds aan die veg om oorlewing. Die NWKV se doel is om boere te help om meer winsgewend met wolskape te boer. Tans is die vleiskomponent ongeveer 63%. Dit is die rede waarom die NWKV gaan help dat die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) weer in Mpumalanga tot sy volle reg kan kom.

Die NWKV en die RPO se kongresse is die eerste keer saam in die provinsie gehou, aangesien heelwat van die lede in albei bedrywe betrokke is.

Die NWKV doen groot werk vir die wolbedryf, onder meer met veediefstal, opleiding, ongediertebestryding en produsentedienste.

"Te min lede gebruik egter die adviesdienste en 'n groot poel kennis word nie benut nie. Die stygende produksiekoste gaan produsente dwing om meer van beproefde wetenskaplike kennis gebruik te maak om te oorleef," het Hugo gesê.

Hugo is sonder teenstem as voorsitter herkies, terwyl die ondervoorsitter, mnr. Machiel Odendaal, ook weer eenparig in die pos aangewys is.

Landbouweekblad, 4 April 2008