Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) is die beste mark vir Suid-Afrikaanse produkte, het me. Ntombi Msimang, nuwe voorsitter van die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR), op die nuut verkose raad se bekendstelling van sy strategiese plan vir 2008 tot 2011 gesê. "Hoe nader die mark, hoe beter."
Mnr. Ronald Ramabulana, uitvoerende hoof van die NLBR, sê dit is duur om byvoorbeeld na Europa uit te voer maak nie saak hóé daarna gekyk word nie. "Suid-Afrika bestee hopeloos te veel aan navorsing oor Europese markte, terwyl opkomende markte in China en Indië nie naastenby genoeg aandag kry nie. Europa se verbruikers is baie kieskeurig. Ons moet ons handelsrigting verander en Chinese en Indiese markte beter navors," het hy gesê.
Talle Oosterse lande bestee miljarde van hul geldeenhede om hul kleinboere te steun. Suid-Afrika kan nie dieselfde sê nie.
Hy het verwys na die integrasie van opkomende boere in 'n Eerstewêreldekonomie. "Opkomende boere moet die fokuspunt wees as hulle nie die produk baie na aan die handelaar kan produseer nie, kan hulle nie winsgewend wees nie."
Die NLBR se fokus is onder meer om markte te identifiseer en aan boere te wys hoe om hul produk daar te kry, maar dit kan nie deur die NLBR alleen gedoen word nie, sê Ramabulana. "Die hele landbougemeenskap moet 'n visie deel. Boere kan eenvoudig nie plant voordat hulle nie 'n mark geïdentifiseer het nie. Veral opkomende boere moet dit besef."
Volgens Msimang bied opkomende boere hul eie uitdagings. "Dit is byvoorbeeld moeiliker om met groepe te werk as met individuele entrepreneurs. Die NLBR en die Departement van Grondsake probeer tans om oplossings vir hierdie probleme te vind. Ná die afgelope tien jaar dink ek verstaan die Regering nou wat gedoen moet word."
Wanneer die Mededingenheidsowerheid egter wel gebruik moet word, soos in die geval van verlede jaar se koringondersoeke, dink Ramabulana dat die fondse eerder aangewend moet word om daardie spesifieke industrie te verbeter. Die R98,8 miljoen boete wat Tiger opgelê is, asook belasting op witbrood kan byvoorbeeld eerder in die koringindustrie teruggeploeg word. Deur dit te doen kan die Landbou Navorsingsraad se Graaninstituut byvoorbeeld navorsing doen om 'n droogtebestande koringvariëteit te ontwerp met die oog op klimaatsveranderinge.
Landbouweekblad, 4 April 2008