Die Departement van Grondsake wil voortaan grond op groot skaal aankoop vir grondhervorming.
Die direkteur-generaal van die departement, mnr. Tozi Gwanya, het op 'n bestuurskonferensie aan senior amptenare gesê om die Regering se doelwit van 30% grondoordrag teen 2014 te haal, sal die departement sy vermoë dramaties moet verbeter tot 3,1 miljoen hektaar per jaar. Die departement het nog nooit meer as 800 000 ha in enige jaar oorgedra nie.
Sy berekeninge aan die einde van Januarie dui egter op 'n verbetering en in die huidige finansiële jaar is reeds meer as 560 000 ha vir restitusie oorgedra en meer as 260 000 ha vir grondhervorming. "Dit is egter steeds minder as die doelwit."
Die departement is begaan oor die stygende plaaspryse wat grondhervorming elke jaar duurder maak. "Ons kry al hoe minder hektare vir elke rand wat ons bestee", het hy gesê.
"Veeplase het voorheen sowat R700/ha gekos. Pryse het egter vinnig gestyg en het R3 900/ha bereik.
"In KwaZulu-Natal, Mpumalanga en Limpopo is suikerriet-, piesang-, makadamia-, lietsjie- en sitrusplase gekoop vir R35 000/ha tot R55 000/ha. "In die Wes-Kaap haal druiweplase sowat R100 000/ha."
Gwanya sê die departement moet sorg dat hy soveel grond moontlik vir sy beskikbare geld kry. Met die mediumtermyn-bestedingsraamwerk kan die 2014-doelwit bereik word as 2,8 miljoen hektaar in 2009/'10, sowat 3,8 miljoen in 2010/'11, sowat 4,41 miljoen in 2011/'12, 4,6 miljoen in 2012/'13 en 4,3 miljoen hektaar in 2013/'14 oorgedra word.
As plaaspryse elke jaar met 9,8% duurder word, sal nog R74,4 miljard oor die volgende ses jaar nodig wees om dié doel te bereik.
Landbouweekblad, 4 April 2008