Landbou
Swart boere bemagtig met biobrandstof
Deur ISABEL STOLTZ (istolz@landbou.com)

Die Departement van Landbou wil landbouproduksie vir biobrandstof eerder koppel aan opkomende boere in die voormalige tuislande as kommersiële landbou om dié gebiede te ontwikkel en aan swart boere bykomende markgeleenthede te bied, het mnr. At van Coller, direkteur van landbou-ingeneursdienste, Woensdag, 26 Maart, op 'n konferensie van die Energie Ontwikkelingskorporasie gesê.

Van die sowat 4,5 miljoen hektaar onderontwikkelde landbougrond wat vir die produksie van roumateriaal vir biobrandstof gebruik kan word, is 2,5 miljoen hektaar in voormalige tuislande, veral in die Oos-Kaap.

'n Opkomende boer het tydens besprekingstyd gevra of kommersiële boere se samewerking nie by sulke projekte betrek kan word nie "anders gaan dit nooit van die grond af kom nie".

Dit is duidelik dat aansienlike belegging nodig gaan wees om die projek te ontwikkel. Na raming kan dit soveel soos R50 miljard beloop omdat infrastruktuur soos store, paaie en spoorvervoer grootliks ontbreek.

Die departement meen egter dit sal bykomende voordele vir opkomende boere skep wat tot soveel soos 50% van hul oeste jaarliks aan peste en plae afstaan omdat hulle nie oor bergingsfasiliteite beskik nie.

Die projek word ook gesien as 'n werkskeppingsgeleentheid, veral wat die verwerking van biobrandstof betref wat "tot honderdvoudig meer werkgeleenthede bied as dié van fossielbrandstofproduksie".

Volgens Van Coller sal die beoogde ontwikkeling van die voormalige tuislande minder beloop as uitgawes aan sosiale toelaes "en dit is volhoubaarder".

Mnr. Erhard Seiler, hoofuitvoerende beampte van die Suider Afrika Biobrandstoforganisasie (SABA), het daarop gewys dat ander lande biobrandstof goedkoper kan produseer.

"As die regering nie in doeltreffender produksie en infrastruktuur in landbou belê nie, gaan plaaslike boere nie mededingend wees nie."

Daar word slegs na sojaproduksie gekyk. "Daar is 'n gebrek aan navorsing vir nuwe produkte. Voorstelle is ter tafel gelê maar omdat daar nie geld is nie, word geen navorsing gedoen op die geskikdheid van boomgewasse soos jatophra vir biobrandstofproduksie nie," het Van Coller gesê.

28 Maart 2008