Landbou
SA graanvoorrade min


Die huidige voorraadvlakke van somergraan, maar veral mielies, is volgens die jongste syfers wat deur die graaninligtingsdiens SAGIS vrygestel is, die laagste in jare.

Mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA, sê indien die voorraadvlakke tot die einde van die huidige bemarkingseisoen (30 April 2008) geprojekteer word, sal die totale mielie-oordragvoorraad ongeveer 1,06 miljoen ton wees. Dit verteenwoordig 11,4% van die totale jaarlikse kommersiële vraag of slegs 40 dae se verbruik.

Die belangrikste redes vir die lae voorraadvlakke is die swak produksie van die vorige seisoen weens droogte, hoë internasionale pryse en 'n beperkte beskikbaarheid van geelmielies. Dit het veroorsaak dat meer witmielies as normaalweg in die veevoermark aangewend is.

Ander somergewasse soos sorghum, sonneblomsaad en sojabone se voorraadvlakke sal skaars genoeg wees om die pyplynvoorraad in stand te hou.

Ferreira sê verder die Nasionale Oesskattingskomitee se tweede oesskatting dui daarop dat die nuwe somergraanoeste aansienlik groter (mielies +51 %, sonneblom +156 %, sojabone +45 % en sorghum +45 %) as verlede jaar kan wees. Hierdie verbetering in produksie is egter van 'n baie lae basis af.

Gegewe die huidige lae voorraadvlakke sal die oordragvoorrade van mielies ongeag die heelwat groter verwagte oes aan die einde van die komende bemarkingseisoen (30 April 2009) nog steeds relatief laag wees.

Op die internasionale front is vroeë aanduidings dat VSA-produsente hulle aanplantings van veral sojabone ten koste van mielies gaan verhoog. Die Amerikaanse Departement van Landbou se verslag van 31 Maart 2008 dui daarop dat produsente mielie-aanplantings met 8,1 % gaan afskaal. Die gevolg hiervan en uitbreiding in die VSA-verbruik is dat voorraadvlakke van mielies in die komende seisoen in die VSA gehalveer gaan word.

2 April 2008