Landbou
Vrae oor sonneblom-oes se verwerking
Deur NICO VAN BURICK

Die oesskattingskomitee het in sy tweede produksieskatting vir somergewasse die skatting vir sonneblomsaad van 686 920 ton na 769 080 ton verhoog. Dit is al 'n styging van meer as 150% teenoor die vorige seisoen se 300 000 ton. Daarmee saam is die skatting vir sojabone ook met 5,7% verhoog na 297 250 ton. Verlede jaar was die totale oes 205 000 ton.

"Ek het geen twyfel dat ons oor die perskapasiteit beskik om die oeste te verwerk nie. Veral nadat ons pas 'n nuwe aanleg van R220 miljoen by Randfontein in gebruik geneem het nie, " sê mnr. Mohammed Mousa, besturende direkteur van Continental Oil Mills, grootste perser en raffineerder van eetbare oliesade in die land. Hy sê die vermoë van die agt groot aanlegte in die land is meer as 90 000 ton per maand met surpluskapasiteit by ander kleiner ondernemings.

By die nuwe aanleg kan 288 000 ton per jaar verwerk word en by die bestaande aanlegte van Continental kan 156 000 ton per jaar gepers word. "Ons het boere nog altyd aangemoedig om oliesade te verbou en ons gee hulle die versekering dat ons dit kan hanteer en mededingende pryse sal betaal."

Intussen het die rekordhoë prys van sonneblom afwaarts begin neig. Op 5 Maart was dit nog oor R5 000 per ton terwyl dit op 1 April op R4 510 gestaan het. Die internasionale prys van sojabone het ook effens gedaal. Op 5 Maart was dit nog R4 480 per ton en op 1 April R4 355 per ton.

Die jongste oesskatting vir mielies is ook met 1,74% opwaarts van 10,581 miljoen ton na 10,765 miljoen ton aangepas. Kenners meen dit is geen verrassing nie. Wat wel tot die plaaslike mieliebedryf se voordeel is, is die onlangse aankondiging dat Amerikaanse boere voornemens is om in die nuwe seisoen 8% minder mielies wil plant.

Volgens 'n skatting van Amerikaanse boere se plantvoornemens wil hulle 34,8 miljoen ha mielies (8% minder), 30 miljoen ha sojabone (18% meer), 25,5 miljoen ha koring (6% meer) en 3,6 miljoen ha katoen (13% minder) verbou.

Die Suid-Afrikaanse mieliesurplus in April sal 1,059 miljoen ton wees. Hiervan sal 690 000 ton wit- en 369 000 ton geelmielies wees. Volgens Sagis word baie meer witmielies hierdie jaar vir veevoer gebruik. Waar dit normaalweg tussen 400 000 ton en 600 000 ton is, is dit vanjaar sowat 1,1 miljoen ton.

3 April 2008