Landbou
Brandstofprys kan boere knak
Deur NICO VAN BURICK

Die twee opeenvolgende rekordververhogings in die prys van diesel, tesame met kunsmispryse wat verdubbel het, kan baie boere se ondergang beteken - veral as kommoditeitspryse sou daal.

Mnr. Johan Pienaar, adjunk-direkteur van Agri SA, sê genadiglik is kommoditeitspryse relatief hoog. "As dit moet daal, sal dit baie boere uit landbou uithaal. Brandstof en kunsmis is 70% van 'n mielieboer se koste. "

Verlede week se prysverhoging van R1,30 per liter vir diesel jaag boere 'n bykomende R1,4 miljard aan insetkoste uit die saak. Saam met verlede maand se verhoging van 78c, betaal boere in net meer as 'n maand se tyd R2,26 miljard meer vir diesel.

Vir 'n indivduele koringboer, wat 55 liter diesel per hektaar gebruik om te plant, was sy dieselkoste per hektaar verlede jaar R324,50. Dit het nou gestyg na R517 (R192,50 per hektaar meer).

Mnr. Mike Schüssler, hoofekonoom van T-Sec, sê die kummulatiewe effek van die prysverhoging is miljarde rande op die ekonomie en dit is veral vervoer en die landbou wat die pyn voel. By dit verwag hy nog 'n kleiner prysverhoging van tussen 5c/l en 15c/l aantaande maand.

Mnr. Tony Twine, ekonoom van Econometrix, verwag ook 'n verdere kleiner verhoging aanstaande maand. Hy sê die onderverhaling die eerste paar dae van April was steeds sowat R1,40/l en dit moet uit die weg geruim word.

Hy verwag egter dat die prys van ru-olie oor die korttermyn nou eerder sal daal as styg. "Dit kan inflasieverwagtinge effens verminder en die medisyne wees wat nou dringend nodig is." Intussen het verskeie instansies 'n beroep op die regering gedoen om belasting op brandstof tydelik te verlaag. TLU SA sê landbou stuur op 'n ramp af. "'n Groot deel van die buitensporige hoë prys bestaan uit heffings wat na die staat gaan en daarom moet ons die saak met die staat opneem, " sê mnr. Paul van der Walt, president. TLU SA wil so gou moontlik verligtingsmeganismes met die betrokke ministers bespreek.

Die vakbond, Solidariteit, het die regering ook versoek om die belasting op brandstof, wat meer as R1,20 per liter beloop, tydelik te verlaag. Mnr. Willie Spies, die VF Plus se woordvoerder oor minerale en energie, sê die onlangse verhoging van die brandstofheffing kom op 'n baie ongeleë tydstip en maak die verhogings soveel te meer 'n potensiële krisis. "Die styging gaan waarskynlik 'n kettingreaksie van hoër inflasie, hoër rentekoerse en 'n algemene verlies in vertroue tot gevolg hê."

3 April 2008