Landbou
'Stuur staatslui na Zimbabwe'
ISABEL STOLTZ

Die beste belegging wat in Suid-Afrika gemaak kan word, is om elke ANC-parlementslid op 'n gratis toer na Zimbabwe te stuur, sê dr. Theo de Jager, voorsitter van Agri SA se grondsakekomitee.

Hy het dié land as lid van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se waarnemingspan tydens die onlangse verkiesing besoek.

Almal in die groep, insluitend lede van Azapo en die PAC, was dit eens dat Suid-Afrika "nooit hierdie pad mag stap nie".

De Jager sê hy het koue rillings gekry van die ooreenkomste tussen die twee lande in die blindelingse najaag van grondhervormingsdoelwitte. In verwysing na die voorgestelde onteieningswet het hy gesê die blote feit dat me. Thoko Didiza, Minister van Openbare Werke, bereid is om só 'n voorstel die lig te laat sien, "getuig van 'n etos wat dui op die Zimbabwe-pad".

"Ek sê nie die wet omskep ons in 'n Zimbabwe nie, maar dit het ál die potensiaal." De Jager sê hy het die grondhervormingspad in Zimbabwe nagevors. "Dit het in 1980 begin met onderhandelinge. Riglyne oor hoe dit gedoen moet word, is in die Grondwet vasgelê. Die Britse regering sou 50% van grond betaal wat op die grondslag van gewillige koper en gewillige verkoper verkry is. Dié proses het vir vyf jaar lank goed verloop.

"In 1985 het dit begin vasval weens onbevoegde amptenare, korrupsie, regstellende aksie en nepotisme wat die proses in 1987 tot stilstand gedwing het. Die georganiseerde landbou het versplinter en elke bedryf het sy eie ding gedoen. Toe die landbou die Britte oor die verslegtende proses gekonfronteer het, het hulle gehoor die Zimbabwiese regering betaal nie meer sy deel van die ooreengekome grondaankope nie en wil hê Brittanje moet alles betaal.

"Weens die geweldige las van duur maatskaplike sekuriteitstelsels, soos gratis dienste en kinder-, onderwys- en gesondheistoelae, was daar nie meer geld vir grondhervorming nie. In 1990 het die Internasionale Monetêre Fonds ingegryp met 'n omvattend plan wat taakgedrewe was om grondhervorming weer op dreef te kry met vestigingsteun, opleiding en bemagtigingsprojekte. Die Europese Unie het die geld voorsien wat in skenkings omgeskakel kon word vir suksesvolle projekte, maar weer het die proses vasgeval weens onbevoegdheid. Nog 'n poging is in 1995 aangewend sonder sukses.

Landbouweekblad, 11 April 2008