Prof. Kader Asmal het as voorsitter van die SA Wynbedryfsraad (Sawit) bedank.
Volgens dr. Johan van Rooyen, uitvoerende hoof van die raad, het Asmal op 'n vergadering waarop hulle oor 'n nuwe uitvoerende hoof moes besluit, bloot gesê hy bedank as voorsitter omdat hy voel hy het bereik wat hy wou en dat sy tyd verby was.
Van Rooyen sê Asmal het nie enige ander redes vir sy bedanking gegee nie. Sy bedanking het ook onmiddellik van krag geword. Asmal se termyn as voorsitter sou in September verstryk. Hy het onlangs ook sy bedanking as parlementslid ingedien.
Mylpale wat volgens van Rooyen tydens Asmal se voorsitterskap bereik is, is die voltooiing van 'n bemagtigings- en transformasie-handves vir die wynbedryf, formalisering van die bedryf se maatskaplike verantwoordelikheid, die verbod op papsakke en uitsluitsel oor die gebruik van die Riesling-naam. "Een van sy belangrikste nalatenskappe is die feit dat statutêre heffings altyd betyds en sonder oponthoude goedgekeur en betaal is iets wat in die verlede nooit gebeur het nie. Dit het tot gevolg gehad dat sake-eenhede, soos Wosa, Sawis en Winetech, hul operasionele programme deurlopend kon implementeer."
Oor die gedagte dat Asmal destyds by die wynbedryf betrek sou word om 'n "voet in die politieke deur" te kry, het Van Rooyen gesê die "sogenaamde politieke deure word nie so maklik oopgemaak nie" en dat die deure in hierdie tyd van verandering en onsekerheid nie dieselfde bly nie.
Van Rooyen sê die feit dat Asmal bedank het en hyself eersdaags deur 'n nuwe uitvoerende hoof opgevolg word, is nie 'n krisis in die snel veranderende omgewing waarin hedendaagse organisasies sake doen nie.
Die adviesforum van die wynbedryf sal eersdaags vergader om 'n nuwe voorsitter te kies.
Landbouweekblad, 11 April 2008