Landbou
Bank dalk wél ondersoek
SUSAN BOTES

Die forensiese verslag oor wanbestuur binne die Land Bank is volgens die bank se topbestuur wel aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die SA Polisiediens oorhandig. Die beweerde wanbesteding binne die bank word wél deur die owerhede ondersoek, het mnr. Themba Langa, nuwe voorsitter van die bank se direksie, 'n paar keer in 'n onderhoud met Landbouweekblad gesê.

Landbouweekblad het einde Februarie berig dat die Kabinet besluit het om nie die verslag na die NVG en die polisie te stuur nie. Dit is glo weer in die hande van die ministerie van landbou geplaas omdat "nuwe inligting ontvang is wat nie in die oorspronklike verslag gehanteer is nie," het mnr. Themba Maseko, regeringswoordvoerder, gesê.

Die Departement van Landbou staan daarby dat die verslag steeds in me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou, se besit is.

Die forensiese verslag is 'n week gelede deur Deloitte-amptenare ter insae aan die nuwe direksie van die Land Bank voorgelê. Langa sê die verslag dui duidelik aan dat daar lede van die vorige bestuur was wat hul posisies misbruik en bedrog gepleeg het.

Mnr. Saki Zamxaka, waarnemende uitvoerende hoof, en mnr. Herman Moketsi, bemarkingshoof, het dit beaam.

'n Taakspan is by die bank aangewys wat die aanbevelings van Deloitte moet implementeer. "Ons wil voortgaan om ons werk te doen," het Langa gesê. Hy sê die nuwe bestuur wil nie deur die aksies van die vorige bestuur gekniehalter word nie. Volgens hom moet die reg sy gang gaan.

Mnr. Godfrey Mdhluli het skriftelik op navraag van Landbouweekblad gereageer deur te sê dat hy werklik nie weet of die saak na die polisie verwys is of nie. Hy het daarna gebel om te sê dat die stand van sake steeds dieselfde is as wat dit in Februarie vanjaar was toe die saak deur Kabinet terugverwys is na die ministerie van landbou.

Die NVG is genader om kommentaar, maar het teen druktyd nog nie gereageer nie.

Intussen is die Land Bank steeds sonder 'n uitvoerende hoof. Sedert mnr. Alan Mukoki, die voormalige uitvoerende hoof, se skorsing, het dr. Phil Mohlahlane die fort gehou. Mohlahlane is egter tydelik aan Land Bank gesekondeer en is sowat drie weke gelede terug na die Departement van Landbou. Zamxaka neem tans waar. Mnr. Xolile Ncame, die voormalige finansiële hoof, staar ook dissiplinêre optrede in die gesig. Mnr. Monana Kambula neem intussen in sy pos waar. Me. Nandi Manentsa, die hoof van menslike hulpbronne, sal ook dissiplinêr verhoor word. Die pos van krediethoof is ook vakant.

Landbouweekblad, 11 April 2008