Landbou
Leemtes in AgriSEB-handves
NICO VAN BURICK

Die handves vir swart ekonomiese bemagtiging in die landbou (AgriSEB) is onlangs in die Staatskoerant gepubliseer sonder dat die komitee wat dit opgestel het, insae in die finale dokument gehad het.

Dr. Tobias Doyer, 'n lid van die stuurkomitee, is teleurgesteld daaroor. "Ons kon nader aan 'n sinvolle dokument gewees het as dit nie deur eie agendas gedryf was nie. Die feit dat die handves op 'n ou telkaart gegrond is, maak dat dit nie as 'n riglyn vir die landboubedryf bruikbaar is nie." In hierdie stadium kan boere net die generiese telkaart van die Departement van Handel en Nywerheid benut.

Hy meen egter die feit dat boerderye met 'n jaarlikse omset van minder as R5 miljoen per jaar van die bemagtigingsvereistes onthef word, is die mees bemoedigende punt.

Sowat 80% van boerderye word nou as vrygestelde mikro-ondernemings (EME's) gesien. Daar word egter nog studies gedoen oor die R5 miljoen perk. Me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, wou die afsnypunt op R1,5 miljoen vasstel om meer boerderye in te sluit.

"Boere word nou op 'n regverdige wyse oor dieselfde kam as ondernemings in ander sektore geskeer. Ons het ook daarin geslaag om landbou-spesifiekte aspekte by te voeg waarvoor boere nou erkenning sal kry. Dit sluit in hul rol ten opsigte van mentorskap aan nuwe boere, opleiding van plaaswerkers en maatskaplike dienste aan hul werkers, soos behuising, mediese sorg, kos en vervoer."

Mnr. Johan Pienaar, adjunk-direkteur van Agri SA, sê hy is verheug oor die afsnypunt van R5 miljoen. "Die leemte is egter die telkaart waarvolgens boere beoordeel word. Dit hou nie verband met die jongste generiese telkaart van die Departement van Handel en Nywerheid nie."

Daar is ook onduidelikheid oor die implementeringsdatum en die status van die telkaart waaraan daar binne die landbou gewerk word.

Landbouweekblad, 11 April 2008