Me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou, het die nuwe direksie van die Land Bank spesifiek gekies om by die behoeftes van die bank te pas. Die span is kundig oor 'n wye reeks onderwerpe, wat onder meer landbou-, finansiële-, bestuurs- en regsvaardighede insluit. Hier is die direkteurs se loopbane bondig opgesom.
Mnr. Themba Langa, voorsitter
Langa is tans die ondervoorsitter vir die Suid-Afrikaanse been van die Europese kamer van handel en nywerheid (EEIG). Sy verantwoordelikhede sluit die vergemakliking en bevordering van sake en handel tussen Europese lande en Suid-Afrika in.
Na afloop van sy klerkskap by die Johannesburgse Effektebeurs het hy Langa Prokureurs in 1999 gestig. Dié firma is tans in Johannesburg geleë. Die firma spesialiseer in kommersiële- en korporatiewe sake - veral op die finansiering en samestelling van transaksies wat bemagtigingsgeleenthede najaag.
Hy was voorsitter van die Appèlraad op Inkomstebelasting.
Prof. Herman van Schalkwyk (ondervoorsitter)
As huidige dekaan van die fakulteit natuur- en landbouwetenskappe aan die Universiteit van die Vrystaat is Van Schalkwyk nie 'n vreemdeling in landboukringe nie.
Hy is 'n voormalige ekonoom van die jaar by Standard Bank, voorsitter van die Internasionale Landboubemarking- en ontwikkelingsafdeling van die Universiteit van die Vrystaat, Benchmark Bonsmara-direksielid en ondervoorsitter van die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit (Welkom).
Mnr. Theo Potgieter
Hy is verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat se bestuurskool en vir die afgelope 25 jaar pomp landboupassie deur Potgieter se are. Sy MBL-skripsie het byvoorbeeld oor die landbou en landelike ontwikkeling gehandel. Verder het hy gehelp om Standard Bank se landbou-afdeling op die been te bring.
Eerw. Otto Mbangula
Mbangula is 'n afgetrede predikant van die Metodiste kerk. Hy is bekend as 'n ontwikkelingsaktivis en is die voorsitter van die Vrystaatse been van die National African Farmers' Union. Hy is verder 'n voormalige voorsitter van die Waarheid- en Versoeningskommissie.
Mnr. Bafana Mathidi
Mathidi is 'n beleggingsbestuurder by Rand Aksepbank en is verantwoordelik vir beleggingsbesluite van meer as R22 miljard met 'n inkomstebegroting van R120 miljoen.
As voormalige hoof uitvoerende beampte van Credit Suisse, voormalige uitvoerende hoof van Andisa Sekuriteit, interne ouditeur van Tongaat Huletts en hoofhandelaar by Investec, het Mathidi nie 'n tekort aan kennis oor die innerlike werking van die finansiële wêreld nie. Hy het ook draaie gemaak as werknemer by RMB, Goldman Sachs en AMB. Mathidi het 'n meestersgraad in finansiële bestuur.
Me. Patience Mnxasana
Dié geoktrooieerde rekenmeester en die Imperial-groep se uitvoerende oudit- en risikohoof. Sy het breedvoerige finansiële en oudit ervaring in verskeie sektore, wat semistaatsinstellings soos Transnet en Eskom insluit.
Mnr. Malungelo Zimibola
Zimibola is tans 'n senior aandele analis by RMB Asset Management, asook 'n portefeuljebestuurder en direksielid van RMB Asset Management. Hy het onder meer 'n honneursgraad in finansiële bestuur, asook 'n graad in bourekenkunde.
Mnr. Modise Motloba
Motloba is tans direksielid van Harmony Gold Mining. Hy is 'n voormalige voorsitter van die Vereniging vir Swart Effekte en Professionele belleggers.
Mnr. Joe Mthimunye
Dié Johannesburger is 'n geoktrooieerde rekenmeester en Aloe Cap se uitvoerende hoof. Hy is 'n lid van die Swart Bestuurdersforum (Black Management Forum) en 'n lid van die opbenbare rekenkundiges en ouditeursraad se opvoedkundige komitee.
Mnr. Moses Sindane
Hy is 'n uitvoerende vennoot in die publieke sektor ouditafdeling van Ernst&Young. Sindane is ook 'n geoktrooieerde rekenmeester en het hope ervaring in die bankwese.
Me. Patience Mnxasana
Nog 'n geoktrooieerde rekenmeester. Mnxasana is 'n nie-uitvoerende direkteur van die beleggingsmaatskappy, Winhold. Dié maatskappy, wat die Johannesburgse Effektebeurs genoteer is, besit onder andere Inmins Bpk. en Gundle Bpk. en het 'n 50% aandeel in Novara Profile Extrusions.
Me. Jesmane Boggenpoel
Sy is die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Instituut van Belastingpraktisyns. Sy is ook 'n senior lid van die Vereniging vir die Bevordering van Swart Rekenkundiges in Suider-Afrika.
Dr. Anna Mokgokong
In 1999 is sy as die Suid-Afrikaanse Besigheidsvrou van die Jaar aangewys en is die uitvoerende hoof van Malesela Eiendomsbeleggings, asook voorsitter van die Malesela groep. Hierdie afgetrede mediese dokter is 'n lid van die Instituut van direkteure en dien op verskeie ander direksies. Dit sluit die Coordinated Benefits groep, Community Healthcare Holdings en Kheta Personeelvoorsiening in.
Me. Nolwazi Qata
Qata het 'n meestersgraad in bedryfsielkunde aan die Universiteit van Kaapstad verwerf. Sy het onder meer al vir Woolworths en die Suid-Afrikaanse Lugdiens gewerk.
7 April 2008