Landbou
Meningsverskil oor AgriSEB


Uiteenlopende kommentaar op die AgriSEB-handves vir die landbousektor is deur georganiseerde landbou uitgespreek. Agri SA sê hy's in die algemeen tevrede, TLU SA sê die teikens is nie ekonomies haalbaar nie.

Die besware wat Agri SA teen vorige AgriSEB-konsephandveste aangeteken het en waaroor daar voorleggings aan die stuurkomitee gemaak is, is bevredigend gehanteer, maar die datum van toepassing van die nuwe handves is steeds onduidelik, sê mnr. Johan Pienaar, adjunk-uitvoerende direkteur van Agri SA.

Die AgriSEB-handves oor swart ekonomiese bemagtiging is in die Staatskoerant van 20 Maart gepubliseer. Aangeleenthede soos die afsnypunte vir klein ondernemings word daarin vervat. Ondernemings met 'n meeskuiwende gemiddelde omset van minder as R5 miljoen per jaar vir die voorafgaande 5 jaar sal uitgesluit wees van verpligtinge in terme van die betrokke handves.

"Algemeen gesproke is die besware wat Agri SA teen vorige konsephandveste aangeteken het en waaroor daar voorleggings aan die Stuurkomitee gemaak is, bevredigend gehanteer. Wat in hierdie stadium steeds onduidelik is, is die datum van toepassing. Die handves is op 4 April formeel geloods en ons vertrou dat die minister tydens hierdie geleentheid meer duidelikheid oor die implementeringsdatum en die betrokke telkaart wat gebruik sal word, sal gee," sê Pienaar.

Intussen het die voorsitter van TLU SA, mnr. Paul van der Walt, gesê die uitvoerbaarheid van die AgriSEB-teikens is nie ekonomies haalbaar in die landbou-omgewing nie.

"Daar is van meet af tydens die proses wat hom afgespeel het in die Stuurkomitee versoek dat wetenskaplike impakstudies gedoen moet word om te bepaal wat die invloed op volhoubare voedselproduksie gaan wees. TLU SA het in eie ondersoeke bevind dat die ingrepe wat dit op voedselsekerheid kan hê onaanvaarbaar hoog kan wees."

Die feit dat 'n ideologiese proses afgedwing word op 'n uiters sensitiewe ekonomiese omgewing, nl. landbou, strek tot kommer, sê Van der Walt. Hy het dit beklemtoon dat dit 'n blye dag sal wees indien die regte ekonomiese beginsels toegepas sal word om die landbou-omgewing te rig.

7 April 2008