Die direkte koste van misdaad vir die landbou is al in 2002 op R1 miljard geraam, maar dié syfer kan nou aansienlik hoër wees.
In 'n persverklaring oor die bekendstelling van Agri SA se Agri Securitas-gholfreeks vir 2008, sê dié organisasie naas die koste van misdaad, is sedert 1991 tot 2007 ook meer as 1 500 moorde op plase gepleeg in nagenoeg 10 400 plaasaanvalle.
Die Agri Securitas-trustfonds is gemik op die beveiliging van die boerderygemeenskap.
Die koste van misdaad vir die ekonomie van Suid-Afrika word volgens die Wêreldbank-verslag van 2005 op 18,9% van die Bruto Binnelandse Produk geraam, aldus Agri SA.
Mnr. Japie Grobler, voorsitter van Agri Securitas, het by die bekendstellingsfunksie in die Paarl gesê 'n veilige platteland is belangrik vir volgehoue landbouproduksie, die skep van werkgeleenthede en die bevordering van ekonomiese groei in die gebied.
Om misdaad pro-aktief te bekamp, het die fonds inligtingsbrosjures in samewerking met die SAPD gefinansier om boeregemeenskappe van veiligheidswenke en misdaadvoorkomingsmaatreëls te voorsien.
Vir meer inligting oor die gholfreeks kan Lans Pepler by 021 872 8539 (e-pos: progolfm@telkomsa.net) gekontak word.
9 April 2008