Landbou
Stilte oor AgriSEB-handves
Deur JEAN-MARIE DE WAAL

Maande nadat die telkaart vir swart ekonomiese bemagtiging in die landbou by mnr. Mandisi Mpahlwa, Minister van Handel en Nywerheid, ingedien is, is daar nog geen woord oor wanneer die finale dokument in die Staatskoerant aangekondig gaan word nie.

Me. Glenda Serero van die Departement van Handel en Nywerheid, sê dit sal gedoen word sodra 'n besluit hieroor geneem is. Volgens haar is daar tans geen onderneming wat wettige akkreditasie ingevolge die Kodes van Goeie Praktyke aan ondernemings kan toestaan nie.

Me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, het op die Departement van Landbou se vertoonvenster van sy vordering met swart bemagtiging in die landbou gesê sy hoop die handves vir die landbou sal eersdaags bekend wees.

Mnr. Ebrahim Rasool, Wes-Kaapse premier, sê egter dat dit 'n onbegonne taak sal wees om die handves vir die landbou toe te pas as almal nie die onderliggende redes vir swart bemagtiging verstaan nie. "Dit gaan langer duur vir dié sektor as ander om swart ekonomiese bemagtiging werklik toe te pas."

Volgens hom kan die Regering nie "onverskillige bewaarders" wees nie, want dit is 'n kwesbare sektor wat te dikwels, en verkeerdelik, bloot as 'n "nagedagte" na vore kom.

Landbouweekblad, 18 April 2008