Landbou
Cosatu kry boere in visier
Deur NICO VAN BURICK

Die vakbond Cosatu dink dit is moontlik dat boere ook 'n hand kan hê in die kwaai styging in voedselpryse. Daarom is sy beoogde protesaksie oor voedselpryse ook gemik op die georganiseerde landbou, sê mnr. Patrick Craven, nasionale woordvoerder van dié vakbond.

Hy sê Cosatu wil 'n volledige ondersoek hê — van die plaas tot by die verbruiker — om die oorsake vir die styging te bepaal. Hy sê Cosatu sal met landbou-organisasies, as lid van Besigheidseenheid SA (Busa), oor die kwessie praat. Die vakbond is egter ook bereid om met enige individuele landbou-organisasie te praat.

Volgens Craven wil Cosatu graag prysbeheer oor basiese voedselsoorte sien. "Die vrye mark is nie voldoende om verbruikers, veral die armstes, te beskerm nie."

Mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA, sê dit is duidelik dat Cosatu nie werking van die landboumark verstaan nie. "Boere is prysnemers in alle opsigte, aan die inset- en uitsetkant, en kan niks aan die pryse doen nie. Ons is net só bekommerd daaroor as hulle. Teen die huidige produksiekoste kan boere nie volgende jaar mielies winsgewend verbou nie. Boere moet 'n wins kan toon om volhoubaar te bly boer en moet terselfdertyd internasionaal kan meeding."

Hy sê Graan SA het volgende maand 'n afspraak met Cosatu oor die rol wat biobrandstof kan speel om markte te vergroot en werk te skep. Voedselpryse sal sekerlik dan ook ter sprake kom, het hy gesê.

Cosatu se beoogde protesaksie is onder meer gemik teen Busa, voedselvervaardigers, kleinhandelaars, Agri SA, die TLU SA, die National African Farmers' Union, die Landboubesigheidskamer en verskeie staatsdepartemente, insluitend die Departement van Landbou en die Departement van Grondsake. Die optrede sal protesoptogte en wegbly-aksies insluit.

Landbouweekblad, 18 April 2008