Die Regering se grondhervormingprogram staan klaarblyklik los van die private sektor se bydrae tot swart ekonomiese bemagtiging.
Volgens mnr. Tozi Gwanya, direkteur-generaal van Grondsake, is grond wat deur die Regering vir herverdeling en restitusie gekoop word, nie deel van die private sektor se swart bemagtigingsdoelwitte nie. Dié sektor kan dus nie "op die rug daarvan ry" vir sy SEB-doelwitte nie, het Gwanya in 'n brief aan Bosbou SA gesê.
Gwanya het gereageer op 'n versoek van Bosbou SA om duidelik te maak of restitusiegrond in aanmerking geneem kan word vir die bosboubedryf se doelwit van grondherverdeling van 25% ingevolge sy transformasie-handves.
Die regering se doelwit en programme om 30% grond teen 2014 aan swart mense te gee, is sý bydrae en kan nie gesien word as die bydrae van die private sektor tot hervorming nie, sê Gwanya.
Maar me. Annelize Crosby, woordvoerder oor grondsake by Agri SA, sê óók die Regering stuur verskillende boodskappe uit oor grondoordrag. "Dit skep verwarring en dit is nie goed nie."
"Daar is 'n wesenlike verskil in interpretasie van wat die 30% behels en hoe dit bereken word. Niemand weet presies wat bygetel en wat uitgesluit word nie. Eers was dit net 30% grond, toe word dit 30% van landbougrond, toe word dit 30% van kommersiële landbougrond. Hoe bereik 'n mens mikpunte as jy nie weet wat die vertrekpunt is nie?"
Landbouweekblad, 18 April 2008