Landbou
Teëspoed vir wapen-registrasies


Probleme word ondervind met die herlisensiëring van vuurwapens ingevolge die nuwe Wet op die Beheer van Vuurwapens.

Mnr. Charles Nqakula, Minister van Veiligheid en Sekuriteit, het syfers in die Parlement beskikbaar gestel wat bewys dat die herlisensiëring van vuurwapens ingevolge die nuwe Wet op die Beheer van Vuurwapens (Vuurwapenwet), probleme ondervind.

Nqakula het geantwoord op 'n skriftelike vraag van mnr. Pieter Groenewald, LP van die Vryheidsfront Plus. Volgens die antwoord van die minister is daar vanaf 2004 tot einde 2007 slegs 420 805 aansoeke vir bevoegdheidsertifikate, en 601 728 hernuwingsaansoeke vir vuurwapenlisensies ontvang. In Suid-Afrika is daar ongeveer 2 miljoen vuurwapeneienaars wat elk 'n bevoegdheidsertifikaat moet kry en ongeveer 4 miljoen vuurwapens wat geherlisensieer moet word voor 30 Junie 2009.

"Die minister is herhaaldelik deur die VF Plus gewaarsku dat die tydperk vir die proses van hernuwing van lisensies en bevoegdheidsertifikate onrealisties is en dat die minister se departement nie oor die administratiewe vermoë beskik om dit betyds af te handel nie. Die syfers wat die minister verskaf het, bewys dat die vuurwapenregistrasieproses in totale chaos is", sê Groenewald.

"Behalwe dat slegs 21% van die eienaars aansoek gedoen het en slegs 15% aansoeke vir vuurwapenlisensie gedoen is, is dit kommerwekkend dat die Sentrale Vuurwapen Register-kantoor, slegs 32,8% van die aansoeke van vuurwapenlisensies en slegs 49,5% van die aansoeke van bevoegdheidsertifikate, volledig kon prosesseer."

Volgens die syfers is 32,8% aansoeke vir vuurwapenlisensies en 3,9% aansoeke vir bevoegdheidsertifikate, afgekeur.

11 April 2008