Die Regering behoort van sy kant af meer te doen om die boer te beskerm teen wanvoorstellings, soos dat die boer verantwoordelik is vir die hoë voedselpryse, sê die TLU SA in 'n nuusverklaring.
Met die nasionale en internasionale protesaksies teen hoë voedselpryse, is dit 'n dringende noodsaaklikheid dat die werklikhede vanuit die voedselprodusent se oogpunt gestel moet word.
Mnr. Paul van der Walt, voorsitter van die TLU SA, sê die boer het geen beheer oor die stygende insetkoste nie. Oliepryse word internasionaal bepaal en dan plaaslik deur die regering van die dag deur heffings gelaai. Dit het 'n rimpeleffek op saad, kunsmis, onderdele en dies meer.
As alle onvoorspelbares, waarvan klimaatsomstandighede die belangrikste is, gunstig is gedurende 'n seisoen, kan die boer steeds nie self die prys wat hy vir sy produk wil hê, bepaal nie. Hy moet geneë wees met die prys wat die markte bereid is om te betaal.
Die handelaar egter kan die produk bekom, sy vaste wins daarop plaas en dit dan aan die publiek beskikbaar stel. Daaroor het die boer geen beheer nie en gevolglik kan die boer nie daarvoor aanspreeklik gehou word nie.
As 'n boer nouliks R2 vir 'n liter melk kry, maar die verbruiker betaal R7 daarvoor, lê die probleem nie by die boer nie, maar by die prosesse en handelaars tussenin. Dieselfde beginsel geld by stapelvoedsel soos mielies en koring.
Volgens syfers wat die TLU SA bekom het, lyk vooruitsigte vir die 2008/2009 seisoen op huidige insetpryse, nie goed nie.
Witmielies onder besproeiing, met 'n opbrengsmikpunt van 6 ton per hektaar, se direkte uitgawes beloop R9 409,68 per hektaar, terwyl die verwagte inkomste R10 800 per hektaar beloop, bereken teen 'n prys van R1 800 per ton. Dit laat die boer met 'n bruto winsmarge van R1 390,32 per hektaar. Hy moet ten minste 'n oes van 5,2 ton per hektaar kry om net eers gelyk te breek. Die syfers vir die vorige jaar was direkte uitgawes van R6 788,47.
Koring se direkte uitgawes sal die boer in 2008/2009 R7 717,55 per hektaar uit die sak jaag, teenoor die R5 249,71 in die vorige seisoen. Die gelykbreekpunt is 2,3 ton per hektaar.
As gekyk word na pryse wat 'n invloed op die insetkoste het, blyk dit dat saad met byna 19% gestyg het en sekere bemestingstowwe met byna 50%.
Dit is waarom die TLU SA by die regering daarop aandring dat hy van sy kant verdere verligting vir die primêre landbou moet toestaan deur vermindering op die brandstofbelasting. Die Regering behoort van sy kant af ook meer te doen om die boer te beskerm teen wanvoorstellings, soos dat die boer verantwoordelik is vir die hoë voedselpryse. Dit is eenvoudig nie waar nie.
11 April 2008