Die Namibiese kabinetskommeling wat pas deur pres. Hifikepunye Pohamba aangekondig is, het ingrypende gevolge vir die landbousektor. Die minister én adjunkministers van Landbou, Water en Bosbou is verplaas na ander ministeries en die nuwe landbouminister is mnr. John Mutorwa, (voorheen van jeug en sport), met mnr. Isak Katali (voorheen adjunkminister by grondsake) as sy adjunk.
Luidens die nuusbrief van die Namibiese Landbou-unie beteken dié nuwe skommeling dat daar waarskynklik vir 'n tyd lank 'n gebrek aan kontinuïteit by die ministerie sal wees. Sake wat die NLU raak, en meer spesifiek die voorgestelde verandering aan die kleinvee-bemarkingskema, sal waarskynlik nou eers in 'n later stadium voor die kabinet dien nadat die nuwe minister en sy adjunk die voorlegging bestudeer het.
Mutorwa het die NLU reeds uitgenooi om op Maandag, 14 April 2008 met hom gesprek te voer. Die NLU sal beslis van hierdie geleentheid gebruik maak om die erns van die voorgestelde verandering aan die kleinvee-bemarkingskema met hom te bespreek. Die huidige skema is van krag tot 30 Junie 2008. Die NLU vertrou dat 'n nuwe reëling getref sal word na aanleiding van die ondersoek wat gedoen is en voorstelle wat deur PriceWaterhouseCoopers gemaak is.
12 April 2008