As 'n belange-organisasie vir graanprodusente, is Graan SA uiters bekommerd oor die hoë voedselpryse en veral oor beskuldigings dat produsente doelbewus aan die hoë pryse aandadig is, sê mnr. Neels Ferreira, voorsitter van dié organisasie.
Graanprodusente is prysnemers en het daarom 'n beperkte vermoë om pryse doelbewus te beïnvloed. Graan SA gaan om hierdie rede onverwyld met belangegroepe soos Cosatu oor die redes vir die huidige hoë voedselpryse in gesprek tree.
Volgens Graan SA se berekeninge is die verwagte jaar-tot-jaar-styging in die veranderlike insetkostekomponent vir wintergrane tussen 60% en 70% en word verwag dat die produksiekostestyging van somergrane tot so hoog as 40% gaan wees. Hierdie stygings plaas die winsgewendheid van graanprodusente onder geweldige druk. Die huidige prysvlakke vir grane is inderdaad hoër as 'n jaar gelede, maar daar is groot kommer oor die vermoë van produsente om selfs teen die hoër vlakke winsgewend te kan produseer.
Die winsmarge op produsentevlak word dus ernstig geërodeer deur insetinflasie - wat verbruikers-inflasie tans ver oorskry. Omdat produsente pryse nie kan beheer nie en uitgelewer is aan seker die grootste risiko, naamlik weersomstandighede, kan hy homself nie effektief verskans nie. Die enigste uitkoms is dat produsente waarde of dienste tot die basiese landbouproduk moet toevoeg.
Geen verbruiker eet koring nie, maar brood word verbruik met koring as basiese grondstof. Koringprodusente se aandeel in die verbruikersrand is tans ongeveer 24%. Die grootste waardetoevoeging tot die uiteindelike koste van 'n brood vind dus buite die beheer van produsente plaas.
14 April 2008