Landbou
Protesmars oor kospryse
Deur NICO VAN BURICK

Die vakverbond Cosatu se protesveldtog teen hoë voedselpryse begin vandag (Donderdag) om 13:00 met 'n massa-optog na 'n Pick 'n Pay-supermark in Braamfontein, Johannesburg.

Sowat 5 000 mense sal na verwagting aan die optog deelneem.

Die veldtog, wat ook teen die georganiseerde landbou gemik is, word gesteun deur die koalisie van nie-regeringsorganisasies, Sangoco, en die Federasie van Suid-Afrikaanse Vakbonde, Feduasa. Met dié veldtog wil die organisasie die aandag vestig op kwaai stygings in voedselpryse en die nadelige uitwerking daarvan op arm mense.

Die optog in Braamfontein sal ook 'n besoek aan Eskom se kantore insluit om beswaar te maak teen die voorgestelde verhoging van 53% in elektrisiteitstariewe.

Terselftertyd het die Kabinet by sy tweeweeklikse vergadering ook die hoë voedselpryse bespreek en kommer uitgespreek oor samespanning in veral die voedselbedryf. Volgens die nuusdiens Sapa het die Regering gesê daar word gewerk aan 'n strategie om die probleem aan te spreek.

Graan SA het op sy beurt gesê hy is ook uiters bekommerd oor die hoë voedselpryse en veral die beskuldigings dat produsente doelbewus aan die hoë pryse aandadig is. Mnr. Neels Ferreira, voorsitter, het beklemtoon dat graanprodusente prysnemers is en 'n beperkte vermoë het om pryse doelbewus te beïnvloed.

"Graan SA gaan onverwyld met belangegroepe soos Cosatu oor die redes vir die hoë pryse praat. Sodoende gaan gepoog word om verbruikers in te lig oor die produsent se rol."

17 April 2008