Die afskaffing van subsidies in die landbou was dalk die verkeerde besluit en moet heroorweeg word, het mnr. Membathisi Mdladlana, Minister van Arbeid, op 'n imbizo in die Wes-Kaap oor plaaswerkers se toestande gesê.
Hy het 'n beroep op boere gedoen om hul werknemers menswaardig te behandel en nie "bloot as stukke gereedskap te sien nie".
Mdladlana het ook kwaai onder arbeidskontrakteurs en hul beweerde korrupte praktyke en uitbuiting van tydelike plaaswerkers en werkgewers ingeklim.
Mdladlana het verwys na die Wêreld-handelsorganisasie se Doha-ronde van onderhandelings waartydens gerapporteer is dat subsidies om boere te ondersteun, betekenisvol is en wydverspreid voorkom. Die subsidies het in totaal meer as $221 miljard per jaar beloop - net meer as 18% se internasionale landbouwaarde wat toegevoeg is. Die Europese Unie en Amerika het elk meer as 'n derde van die totale subsidies in 2001 betaal.
"Ons het nodig om weer hierna te gaan kyk (dat plaaslike boere geen subsidies ontvang nie) en ons moet onsself afvra of dit die regte besluit was. Miskien was ons verkeerd," het Mdladlana gesê.
Landbouweekblad, 25 April 2008