Die gewraakte Mules se operasie wat as teenvoeter gebruik word teen brommers wat skape aanval en veral in Australië wyd toegepas word, het in Beijing, China, 'n nadraai gehad.
Die Internasionale Woltekstielorganisasie (IWTO) het in dié stad vergader.
Mnr. Gunter Beier, voorsitter van die IWTO, het volgens 'n berig in die Australiese tydskrif The Land gesê dat die toepassing van die praktyk die toekoms van wol bedreig. "Dit is noodsaaklik dat ons verskilpunte ter wille van die toekoms van die vesel sal oorbrug en dat die Australiese wol-innoveringsorganisasie (AWI) sy sake in orde sal kry."
Beier sê die Wolmerk-netwerk en die IWTO behoort ook gebruik te word om kleinhandelaars wat bekommerd is oor die praktyk, die versekering te gee dat dit uitgefaseer gaan word. "Dit is van die grootste belang dat die regte boodskap aan die kleinhandel oorgedra word. Dit is omdat hulle die mense is wat verseker dat wolprodukte aan die publiek verkoop kan word."
Intussen het AWEX 'n voorstel goedgekeur dat wolboere vanaf 21 Julie 'n verklaring kan onderteken dat hulle nie Mules se operasie toepas nie. Die inligting sal op die verkoopskatalogus aangedui word.
Landbouweekblad, 25 April 2008