Landbou
Limpopo-plaaswerker bekroon
ISABEL STOLTZ

Limpopo het sy eerste Plaaswerker van die Jaar op Lephalale aangewys. Die georganiseerde landbou en die Departement van Landbou wil daarmee erkenning aan plaaswerkers se bydrae tot die landbou en die gemeenskap gee.

Boere het self werkers benoem en geëvalueer — met die fokus op plaaswerkers wat hul volle potensiaal uitleef en 'n bydrae in die plaaslike gemeenskap lewer. Hul werkverrigting is bekyk, asook karakter en persoonlikheid, huislike toestande en betrokkenheid by die gemeenskap.

Die Plaaswerker van die Jaar is mnr. Spek Molebatsi. Altesame 43 plaaswerkers het sertifikate ontvang en die ses beste inskrywings het verskeie ander pryse en geld ontvang.

Die wedstryd het gespruit uit gereelde vergaderings wat al om die ander maand tussen die Departement van Landbou en Agri Lephalale, die TLU SA Noord en die National African Farmers' Union plaasvind om sake in die landbou te bespreek.

Volgens mnr. Francois van den Berg, voorsitter van Agri Lephalale en ondervoorsitter van Agri Limpopo, het die verhouding tussen die Regering en die landbou in dié gebied dramaties verbeter sedert die vergaderings 'n instelling geword het.

Me. Pinki Kekana, uitvoerende burgemeester van die distrik Waterberg, het boere bedank vir hul bydrae tot die kompetisie. Sy sê die goeie verhoudinge tussen die distrik se boere en hul werkers kan dikwels verkeerde politieke indrukke omdraai.

Landbouweekblad, 25 April 2008