Landbou
Wynuitvoer verbeter
Deur AMELIA GENIS

Die uitvoer van Suid-Afrikaanse wyn het in die eerste kwartaal van 2008 met 35% gestyg in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar.

Me. Su Birch, uitvoerende hoof van Wosa, sê die hegter samewerking deur al die belangrike betrokkenes om saam Suid-Afrika se profiel in 'n mededingende wêreldmark te bou, werp vrugte af. "Vir die eerste keer in die land se geskiedenis het die volume wyn wat uitgevoer word, binnelandse afset oorskry. In die 12 maande tot Januarie vanjaar is 316,8 miljoen liter wyn uitgevoer, teenoor die 314,5 miljoen liter wat binnelands verkoop is."

Birch sê hoewel gegewens oor binnelandse verkope vir die 12 maande tot Maart nog nie beskikbaar is om 'n vergelyking te tref nie, weet hulle dat die uitvoer in dié tyd 331,5 miljoen liter beloop het — 23% meer as die vorige 12 maande. "Daarenteen groei die binnelandse mark teen die veel stadiger tempo van sowat 5% per jaar."

Sy reken die goeie uitvoersyfer is te danke aan die ál groter vraag in Skandinawië, Duitsland, Noord-Amerika en Afrika, asook aan die herstel van Suid-Afrika se posisie in Brittanje. "Laer produksie in Australië, hoofsaaklik die gevolg van twee swak oesjare weens droogte, en kleiner oeste in 2007 in Frankryk as Italië, het geleenthede vir Suid-Afrika geskep."

Birch sê verkope in Angola het ook gehelp om die voorraad oortollige rooi wyn te verminder. Dié mark groei vinnig, veral omdat invoerders besef dat dit goedkoper is om van Suid-Afrika te koop as van hul tradisionele bronne in Portugal.

Landbouweekblad, 25 April 2008