Landbou
Rekordprys vir Swakara-pelse


'n Nuwe rekordprys is vir 'n lot Swakara-pelse betaal op die onlangse veiling wat deur Agra in Kopenhagen gehou is.

Van die aanbod van 79 653 Swakara pelse is 100% op 10 April 2008 deur Agra in Kopenhagen, Denemarke verkoop. 'n Gemiddelde prys van 256,99 Deense krone (DKK) is behaal, wat 'n daling van 3,94% verteenwoordig, teenoor die DKK 270,13 wat in September 2007 behaal is.

Ten spyte van die daling in krone was daar `n styging van 9% in die waarde van die Amerikaanse dollar. Die dollarprys was VSA$55 teenoor die VSA$49,60 van die vorige veiling. Dus kan die daling in krone grootliks aan die swak vertoning van die dollar teenoor die krone toegeskryf word. Die gemiddelde prys in Namibiese dollar van N$422,08 toon 'n styging van 19,34% teenoor die N$353,69 van die vorige veiling.

Die aanbod het bestaan uit 69 208 swart, 461 grys, 5455 wit, 377 bruin en 4 152 diverse pelse. Die hoogste prys van N$1 396,04 (DKK 850), is betaal vir 'n pakkie van 52 D Lig Lyre Uitsoek Super-pelse en is gekoop deur Bourtsos Konstantinos van Siatista, Griekeland. Dit is die hoogste prys nog in N$ betaal. Die vorige hoogste van N$1 250 is in April 2006 betaal. September 2007 se hoogste prys in Namibiese dollar was N$667,74.

Die pelse is deur 35 kopers gekoop met ander wat aktief gebie het, maar wat onsuksesvol was. Die grootste kopers was die agente uit England, met Japan tweede en Italië derde. 'n Japanse koper was weer eens die grootste koper. Kopers uit Duitsland, Amerika, Suid-Korea, Hong Kong, Griekeland, Denemarke en Israel het ook aan die veiling deelgeneem.

Die top Namibiese produsent (met meer as 250 pelse) vir die veiling is mnr. Giel Karsten van Karasburg, wat 574 pelse teen gemiddeld N$590,01 verkoop het. Die Suid-Afrikaanse produsent mnr. Will Louw van Kakamas het 268 pelse verkoop teen 'n gemiddeld van R558,24. (Die SA rand en die Namibiese dollar se waarde is dieselfde.)

  • Bron: Weeklikse nuusbrief van die Namibiese Landbou-unie.

    19 April 2008