As die Regering die kernprobleme wat kommersiële boere ervaar bly ignoreer, sal Suid-Afrikaners uiteindelik "beurtkos" ervaar. Drie maaltye per dag kan twee maaltye word, sê dr. Kraai van Niekerk, DA-woordvoerder oor landbou.
Van Niekerk skryf in dié party se nuusbrief dat sowat 25 000 boere die landbou sedert 1994 verlaat het. Talle van dié ervare boere probeer 'n bestaan in handelsektore buite die landbou maak, of het die land verlaat. Sommige van ons mees bevoegde beamptes in die landbousektor het ook weggegaan, en help ons mededingers nou in Australië, Chili en elders in Afrika om in internasionale markte teen Suid-Afrika mee te ding.
Probleme wat kommersiële boere ervaar, word geïgnoreer, en die Regering se oordadige klem op ontluikende boere stel voedselsekuriteit in Suid-Afrika nou ernstig in gevaar. Hoër pryse vir mielies en koring sal produksie in die kort termyn aanwakker, maar sal binnekort in oorproduksie uitloop, en nog 'n siklus van laer pryse sal uiteindelik minder winsgewendheid in die landbou meebring.
Ondanks die feit dat daar reeds 'n beperkte voorraad water vir landboubenutting is, stel die ANC-regering metodes in om wit kommersiële boere se waterregte na nuwe ontluikende boere oor te dra, sonder om seker te maak dat die water produktief en volhoubaar aangewend sal word.
Daar is ook 'n tekort aan bewerkbare grond, en dit plaas baie druk op die landbou. Net 14% van Suid-Afrika se landbougrond is bewerkbaar, en net 1,2 miljoen hektaar word besproei. Tog is 34% van die 4 miljoen ha grond met 'n hoë potensiaal in Suid-Afrika aan die land se ooskus onderbenut. Waarom is die Regering traag of ongewillig om dié geweldige hulpbron te ontwikkel en te benut? Al dié inligting is beskikbaar, maar word eenvoudig in die wind geslaan, al het die Landbounavorsingsraad en ander organisasies verskeie voorleggings gedoen.
Nog 'n probleem is dat die potensiaal van landbougrond al hoe meer weens klimaatsverandering onder druk kom, maar navorsing is op ontluikende boere gerig en hou nie tred met alternatiewe om klimaatsverandering teen te werk nie.
Ongelukkig is dit 'n feit dat voedselpryse styg. Bekostigbare voedsel is belangrik, maar dis selfs belangriker of die voedsel vir al die mense beskikbaar is. Tans slaag Suid-Afrika se kommersiële boere daarin om genoeg voedsel te produseer, maar as die Regering die kernprobleme wat kommersiële boere ervaar steeds bly ignoreer, sal ons uiteindelik "beurtkos" ervaar. Drie maaltye per dag word dan moontlik twee maaltye per dag, en oplaas een maaltyd per dag - of glad niks.
Die DA doen in die Parlement alles in sy mag om dié bedreigings vir voedselsekuriteit te beklemtoon en 'n volhoubare landbousektor vir die toekoms te verseker, skryf Van Nierkerk.
23 April 2008