Landbou
Boere moeilik oor plaasmoorde


Dit word vir die TLU SA al hoe moeiliker om sy lede en ander boere tot kalmte te maan ná die jongste vlaag plaasmoorde. Die voorsitter, mnr. Paul van der Walt, sê die TLU SA besef dat die veiligheidsituasie op die plase onhoudbaar word, en die Regering moet verantwoordelikheid neem vir wat hieruit kan voortvloei.

Die TLU SA het met absolute weersin verneem van die afgelope dae se aanvalle op boere:

  • Mnr. Johan Myburgh jr. (33) is in sy pa se sitkamerstoel voor die televisie geskiet op 'n plaas buite Groblersdal op die Middelburg-pad.
  • Van die verdagtes wat weens die moord op me. Zaiboon Jeena (61) van Ottoshoop in Noordwes gearresteer is, het ontsnap en kort daarna by verskeie plaashuise buite dié dorp ingebreek, en uiteindelik het hulle 'n 60-jarige plaasboer, mnr. Dries Deysel, letterlik geslag, sy vrou verkrag en doodgeskiet.
  • Mnr. Tom Mejs is op sy kleinhoewe by Doringrandjies buite Pretoria, deur nie minder nie as twaalf mans met pistole oorval. Hulle het hom in die huis ingeneem waar daar nog ses van sy familielede was. Almal se hande en voete is vasgebind en vir mnr. Mejs, sy vrou en die huiswerker in die gesig geskop en geslaan.
  • 'n Veroordeelde misdadiger, blyk nou, was skynbaar betrokke op die moord op mnr. Anton Dippenaar (27) vroeër vandeesmaand voor sy driejarige seun in Kempton Park. Hy het slegs die helfte van 'n agt jaar vonnis vir roof uitgedien voor hy op parool vrygelaat is.
  • Die 71-jarige mev. Lien Gronum is in haar plaashuis op Geluk net buite Brits in Noordwes met 'n briewemes en 'n broodmes doodgesteek.

    Van der Walt sê dat TLU SA sy lede maan om nie reg in eie hande te neem of om sodanig op te tree dat dit net sou lyk dat hulle die wet oortree nie. "Ons boere beteken baie meer vir ons op die plase as in die tronk," sê hy.

    "Maar die boere se geduld is op breekpunt en dit word al hoe moeiliker om hulle tot kalmte te maan. Niemand hoef immers toe te laat om weerloos afgeslag te word terwyl die Regering met gevoude hande sit en toekyk, en terwyl sy amptenare misdadigers voortydig vrylaat of laat ontsnap, sodat dié met hulle duiwelswerk kan voortgaan," sê hy.

    23 April 2008