Landbou
Nqakula kry nie tyd vir boere


"Politici is verbasend stil ná die onlangse plaasaanvalle waarin verskeie lede van die boeregemeenskap brutaal vermoor issê mnr. André Botha, voorsitter van Agri SA se wet- en ordekomitee. Botha het verwys na die brutale moorde op lede van die boeregemeenskap die afgelope week. Die moorde sluit onder andere in die moord op Johan Myburgh van Groblersdal en At en Katrien Deyzel van Lichtenburg.

Volgens Botha poog Agri SA reeds sedert Maart 2007 om 'n afspraak met die Minister van Veiligheid- en Sekuriteit te bekom om aspekte van plaas- en landelike veiligheid te bespreek. "Dit is jammer dat die minister nog nie sy weg oop gesien het om 'n datum beskikbaar te stel vir so 'n ontmoeting nie. Die veiligheid van die landbougemeenskap is 'n baie hoë prioriteit vir Agri SA en die organisasie is van voorneme om verskeie kwessies oor landelike veiligheid in 'n memorandum aan pres. Mbeki te voorsien tydens die eersvolgende Presidensiële Kommersiële Landbouwerkgroep.

Volgens Agri SA het sedert 1991 het meer as 10 700 plaasaanvalle voorgekom waartydens meer as 1 600 lede van die boeregemeenskap, wat insluit plaaswerkers, vermoor is.

24 April 2008