Landbou

Mnr. Johan Ehlers (links) hoof-uitvoerende beampte van Agri-Expo, oorhandig die trofee aan Fairview se kaasmaker, mnr. Bruce Rowbotham. Fairview se Chevin-kaas met knoffel en kruie is as die 2008 Suiwelproduk van die Jaar bekroon.
Soortgelyk
Fairview-bokmelkkaas bekroon


'n Bokmelkkaas is vanjaar se Suid-Afrika se Suiwelproduk van die Jaar. Fairview Landgoed van die Paarl se Chevin-kaas met knoffel en kruie het met dié louere weggestap by vanjaar se SA Suiwelkampioenskap.

Die wenners is gisteraand (23 April) tydens die Danisco Qualité Gala-dinee in Stellenbosch aangekondig. Dié bekende kaasvervaardiger van die Paarl het terselfdertyd drie Qualité Toekennings, sowel as 'n halfdosyn SA kampioene vir homself toegeëien.

"Hierdie is een van die heel eerste bokmelkkase wat ons ontwikkel het," vertel trotse Fairview kaasmaker, Louis Lourens. "Die naam is saamgestel uit die generiese Franse term vir vars bokmelkkaas, Chèvre, en die Frans vir wyn." Die sagte, matig gegeurde kaas word gemaak van 70% Saanen-bokmelk en 30% Jersey-melk, waarna dit in 'n mengsel van knoffel en kruie gerol word.

Byna 700 suiwelprodukte van sowat 70 vervaardigers het meegeding in die 2008 SA Suiwelkampioenskap wat deur Agri-Expo aangebied word. 'n Totaal van 75 produkte is as SA Kampioene gekroon, maar slegs 15 kon daarin slaag om die gesogte Qualité-toekenning vir uitstaande kwaliteit in te palm.

Suiwelreus Parmalat het sy stempel afgedruk met vier Qualité-toekennings, gevolg deur Fairview (3); Lancewood en Panciera Confectioners (2 elk); Rhodes Foods, Dalewood Fromage, Clover en Klein River Cheese (1 elk).

Parmalat het ook die voortou geneem wat SA kampioene betref deur 13 kampioenskap-toekennings op homself te verenig, gevolg deur Clover en Lancewood in die gesamentlike tweede plek met agt elk, terwyl Fairview ses kampioenskap-toekennings verwerf het.

"Die SA Suiwelkampioenskap stimuleer innovasie in die suiwelbedryf en moedig tegnoloë aan om suiwelprodukte voortdurend tot die voordeel van die verbruiker te verbeter," sê Kobus Mulder, suiwelbestuurder van Agri-Expo. "Om 'n Qualité-toekenning te wen is voorwaar 'n besondere prestasie en so 'n produk verdien die aandag van verbruikers."

Kaasliefhebbers kan die meesters agter die wenkase ontmoet en hul uitsoek kase proe tydens die jaarlikse SA Kaasfees van 25 tot 28 April 2008 by Bien Donné-plaas tussen die Paarl en Franschhoek.

  • Kontak Kobus Mulder by 082 806 5093 of besoek www.cheesesa.co.za vir meer inligting of uitslae.

    24 April 2008