Vier kaasmakers uit voorheen benadeelde gemeenskappe is aangewys om drie weke lank opleiding in Frankryk te ondergaan om hulself verder te bekwaam.
Die name van die vier gelukkige kaasmakers is gister op die suiwelbedryf se uithang-dinee in Stellenbosch bekend gemaak. Hulle is mnr. Willem Bosman van Mooivallei Kaas, Bonnievale, Me. Dollencia Willemse, Kasselshoop Kaas, Stilbaai, me. Barenise Croy, Jersey Fresh, Malmesbury, en Chaneë Truter van Imhoff Cheese, Noordhoek.
Die toekennings is deel van die jaarlikse SA Suiwelkampioenskap en die dinee vind plaas net voor die gewilde SA Kaasfees, wat die naweek op die Bien Donné-terrein buite die Paarl gehou word.
Mnr. Kobus Mulder van Agri-Expo sal die groep vergesel aangesien Agri-Expo die praktiese reëlings met betrekking tot die opleiding tref. Die kandidate sal 'n praktiese fase by twee fabrieke deurloop in die produksie van tipiese Franse kase. Dit sal gevolg word deur 'n bemarkingsmodule, wat sal fokus op kommersiële aspekte van die kaasbedryf. Hulle sal ook blootgestel word aan die innoverende gebruike van kaas. Die groep sal van 6 tot 28 Junie in Frankryk wees.
Luidens 'n verklaring van mnr. Cobus Dowry, die Wes-Kaapse LUR vir landbou, het die Departement van Landbou in samewerking met die streeksregering van Boergondië en die Franse departement van buitelandse sake die geld verskaf wat die vier kaasmakers in staat stel om dié kursus by te woon.
Na afloop van die kursus moet elke kursusganger 'n voorlegging aan hul onderskeie maatskappye doen en hul vordering sal op 'n deurlopende basis gemonitor word. Dit word beoog dat hulle in die toekoms as mentors sal optree vir jong kaasmakers uit voorheen benadeelde gemeenskappe.
24 April 2008