Landbou
'Bloeityd voor vir landbou'
Deur CHRIS JOOSTE

'n Bloeityd lê vir die landbou voor. Dit is nóú die tyd om tot die landbou toe te tree, sê mnr. Ernst Janovski, ekonoom van Absa.

Hy het op die prestige-boeredag van GWK op die plaas Olierivier, naby Douglas, gesê veral twee faktore het 'n gunstige invloed op die landbou. Aardverwarming dwing brandstofverskaffers om al hoe meer omgewingsvriendelike brandstof te vervaardig. Die stygende olieprys veroorsaak ook dat dit al hoe meer ekonomies is om biobrandstof te maak.

"Boere moet meer mielies plant vir biobrandstof en die mielieprys styg. Omdat boere meer mielies plant, word minder ander gewasse geplant, wat op hul beurt skaarser word en gevolglik ook duurder."

Janovski sê in groot dele van die wêreld het kapitalisme kommunisme vervang, wat ook die olieprys laat styg. Dit gaan steeds die vraag na biobrandstof verhoog, wat goeie nuus vir die landbou en pryse is.

Die netto plaasinkomste behoort te styg en plaaspryse kan aansienlik styg. Die verhouding van plaasskuld teenoor omset behoort ook te verbeter.

"Die kosteknyptang maak ook dat boere meer produktief moet wees deur veral nuwe tegnologie te benut, baie aandag te gee waardetoevoeging en deur hul vaste koste laer te hou. Tegnologie is in baie gevalle die beste manier om in die landbou te bly."

Landbouweekblad, 2 Mei 2008