Landbou
Gaan Telkom platteland help?
Deur JOHAN NORVAL

Telkom het 'n openbare verantwoordelikheid ook teenoor die landelike gebiede in sy hoedanigheid as die enigste voorsiener van vastelyn-telekommunikasie, sê mnr. Wessel van der Merwe, voorsitter van Agri Noord-Kaap.

Van der Merwe is 'n lid van 'n afvaardiging van Agri SA wat op 24 April met senior personeel van Telkom onderhandel het. Die doel van die gesprek is grootliks 'n inisiatief van Agri Noord-Kaap omdat die landbou in dié provinsie erg benadeel word deur 'n gebrek aan diens van Telkom.

Van der Merwe sê tot dusver is geen terugvoer van Telkom ontvang op 'n navraag in November verlede jaar ten opsigte van probleme wat in die Noord-Kaap ervaar word nie. Die probleme is met bewyse toegelig met bepaalde gebruikers wat geen of baie swak telefoonverbinding het as gevolg van die diefstal van telefoonkabels, ou tegnologie van toerusting en die swak onderhoud wat op lyne gedoen word.

Van der Merwe sê 'n lys van gebiede in die Noord-Kaap wat die ergste deur telekommunikasieprobleme geraak word, sal wéér aan Telkom voorgelê word. "Ons vertrou dat daar wel oplossings vir die probleme gevind sal word. Landbou-ondernemings kan nie sonder kommunikasie bedryf word nie. Groot gebiede in die Noord-Kaap het ook geen selfoonontvangs nie. Boere van dié gebiede moet lang afstande aflê tot by plekke waar daar wel kommunikasie beskikbaar is."

Van der Merwe sê dat daar ook gesprekke met selfoondiensverskaffers in die toekoms gevoer gaan word.

Landbouweekblad, 2 Mei 2008