Groot ontsteltenis heers in landbougeledere oor 'n nuwe vlaag plaasmoorde wat landelike gebiede getref het. Veral die feit dat 'n ontsnapte moordverdagte vermoedelik weer by 'n grusame plaasmoord betrokke was, laat die gemoedere hoog loop.
Mnr. Boeta du Toit, hoofbestuurder van Agri Noordwes, sê 'n toename in ontsnappings wat tot nuwe misdade lei, is 'n groot bron van kommer. Van die ander aanvalle sluit in dié op mnr. Johan Myburgh (33) wat op 'n plaas buite Groblersdal doodgeskiet is, mnr. Tom Mejs, sy gesin en werker wat op sy hoewe buite Pretoria deur 12 mans aangeval en aangerand is en me. Lien Gronum (71) wat in haar plaashuis buite Brits doodgesteek is. 'n Veroordeelde misdadiger wat net die helfte van 'n vonnis van 8 jaar vir roof uitgedien het, is skynbaar ook betrokke op die moord van mnr. Anton Dippenaar (27) in Kempton Park.
Volgens die TLU SA Noord was daar sedert November verlede jaar 21 aanvalle in Limpopo waartydens sewe moorde gepleeg is.
Mnr. Dries Joubert, voorsitter van die TLU SA Noord, sê 'n video in uiters swak smaak ten koste van swart mense is landwyd veroordeel, maar nie 'n woord word gerep as meer as 21 wit mense binne 'n paar maande, vermoor, gemartel, verkrag en aangerand word nie.
'n Protesoptog teen plaasaanvalle word op Woensdag 30 April om 10:00 deur die distrikslandbou-unie Groblersdal op Groblersdal se rugbyveld beoog. 'n Beroep word gedoen dat almal wat 'n belang in die landbou het, dit sal steun. Navrae: André Prinsloo, sel 082 443 3863.
Landbouweekblad, 2 Mei 2008