Die Verenigde Nasies se Wêreldvoedselprogram (WVP) sê die huidige hoë voedselpryse skep die grootste uitdaging in dié organisasie se 45 jarige bestaan.
Volgens die WVP is duur kos 'n stille tsoenami wat hongersnood by meer as 100 miljoen mense op ál die vastelande sal veroorsaak.
Me. Josette Sheeran, uitvoerende direkteur van die WVP, het in Brittanje gesê die miljoene nuwe mense wat ses maande gelede nog nie in die kategorie was van mense wat ernstig honger ly nie, is die nuwe aangesig van hongersnood. Sy meen grootskaalse optrede op hoë vlak deur die wêreldgemeenskap is nodig vir noodoplossings wat op die lang duur volhoubaar is.
Sy sê soos in die geval van die tsoenami in 2004 toe die wêreld se hulp nodig was nadat 'n kwartmiljoen mense dood is en sowat 10 miljoen dakloos gelaat is, vereis die kosprysuitdaging ook die wêreld se hulp. In 2004 het die wêreld $12 miljard tot hulp bygedra.
Sy sê op enige tydstip van die dag het die WVP 30 skepe op see, 5 000 vragmotors op land en 70 vliegtuie in die lug om kos aan behoeftiges te lewer.
Landbouweekblad, 2 Mei 2008