'n Proefbesending Namibiese beesvleis is so goed in Dubai ontvang dat die Namibiese vleiskorporasie Meatco versoek is om méér vleis te stuur. Terselfdertyd het die vraag na Namibiese beesvleis ook skerp in Switserland gestyg.
Volgens 'n verklaring deur Meatco is 'n proefbesending van vier keursnitte verlede Desember na Dubai gestuur waar dit deur 'n agent versprei is.
Dié besending was deel van 'n poging om nuwe markte te bekom toe die onderhandelinge met die Europese Unie oor die uitvoer van vleis daarheen tot stilstand gekom het en groot onsekerheid oor die toekoms daarvan bestaan het.
Die proefbesending is so goed in Dubai ontvang dat daar nou versoek is om nóg van elkeen van die snitte daarheen te stuur.
Switserland is nie 'n nuwe bestemming vir Namibiese vleis nie, maar waar daar tot onlangs een lugvraghouer vol vleis per maand daarheen gestuur is, ontvang dié land sedert Februarie drie lugvraghouers vol vleis per week.
Landbouweekblad, 2 Mei 2008