Boereleiers uit verskeie Afrika-lande het hul vrees uitgespreek oor die verwringende uitwerking wat regerings se reaksie op stygende voedselpryse op produkmarkte kan hê.
Meer as een afgevaardigde by die Internasionale Federasie van Landbouprodusente (Ifap) se werkswinkel vir die Afrika-streek op Stellenbosch het gesê hulle besef dat hoë en stygende voedselpryse regoor die wêreld verreikende gevolge kan hê, maar wil nie gekruisig word omdat hulle vir die eerste keer in baie jare goeie pryse vir die meeste van hul produkte ontvang nie.
Mnr. Ajay Vashee van Zambië en ondervoorsitter van Ifap se Afrika-komitee, het gesê dat die pryse van landbouprodukte die afgelope 40 jaar in reële terme gedaal het en nou vir die eerste keer styg. Hy het gevra of dit noodwendig so sleg is.
"Ons verwag baie negatiewe inmeng-aksies oor voedselpryse van regerings. Dit sal landboumarkte doodmaak," het Vashee gesê.
Mnr. Leonard Kariuki van Kenia se nasionale federasie van landbouprodusente (Kenfap) sê die toename in die gebruik van voedselgewasse vir die vervaardiging van biobrandstof kan ernstige gevolge hê, naamlik minder grond en beleggings vir voedselproduksie en minder kommer oor die lot van arm en honger mense. "Biobrandstof bring geleenthede vir belegging en om wins te maak. Dit kan kommoditeitspryse laat styg en veel lyding veroorsaak."
Kariuki het gevra of hoë kommoditeitspryse noodwendig sleg is. "Nee, dit is nie. Die landbouers het vir 'n lang tyd stedelike mense ondersteun sodat hülle 'n beter lewe kan geniet. Ons moet nie te bekommerd wees oor stygende landboupryse nie; landbouprodusente wat meer geld verdien is dan presies waarna ons uitgesien het."
Tog meen hy dat regerings stedelike mense te hulp sal snel.
Om groter produksie van landbouprodukte aan te moedig, is in die huidige omstandighede die beste ding om te doen, het mnr. Hardwick Tchale, landbou-ekonoom van die Wêreldbank in Malawi, gesê. "Ons moet die aanbod van landbouprodukte verhoog deur 'n verhoging in produktiwiteit. Ons sal onmiddellik moet optree en probleme uit die weg ruim omdat daar by landbouproduksie gewoonlik 'n tydsverloop van 'n paar weke of maande is voordat daar geoes kan word."
25 April 2008