Koop maar die kragopwekkers en kerse, want beurtkrag sal vir minstens die volgende vyf tot agt jaar deel van die lewenswyse van Suid-Afrikaners wees. Dié waarskuwing is deur mnr. Gerrit Venter, inkomstebestuurder van Eskom vir die suidelike streek, op die vegadering van die Oos-Kaapse Landboubesigheidskamer (LBK) in Port Elizabeth gerig.
Venter sê hoewel daar min skort met die verspreiding van krag deur die netwerk, lê die probleem by die opwekking daarvan. "Die reserwekrag beloop tans tot 10%, terwyl die mikpunt 15% is. Om hierdie rede is beurtkrag ingestel om minstens 'n verdere 1 000 megawatt uit die stelsel te onttrek. Die mikpunt is egter dat 3 000 megawatt bespaar moet word en dat dié syfer teen 2025 sowat 8 000 megawatt moet beloop.
Volgens hom is verdere onderbrekings moontlik aangesien van die kragsentrales van tyd tot tyd vir noodsaaklike instandhoudingswerk afgeskakel moet word. Hy sê die toepassing van die Brasiliaanse model, waar kraglewering in nie-spitstye verbruikers minder kos, word ondersoek. Dit sal egter eers gedoen kan word nadat gesofistikeerde kragmeters by huishoudings geïnstalleer is om die verskillende tariewe te bepaal.
Hy benadruk dat Eskom se deure oop staan vir groepe boere wat wil onderhandel dat beurtkrag net in bepaalde tye van die dag op hulle van toepassing gemaak moet word. Dit moet egter mense wees wat deur dieselfde kraglyn bedien word en daar moet instemming by almal wees oor die tyd van die dag wat die krag afgeskakel sal word.
Landbouweekblad, 2 Mei 2008