Landbou
Agri SA en Telkom vat hande


Agri SA en Telkom gaan as vennote saamwerk om oplossings te vind vir probleme met dienslewering in landelike- en landbougebiede.

Tydens 'n vergadering gister in Pretoria het Agri SA en Telkom verskeie telekommunikasie-uitdagings wat die landelike gemeenskap ondervind, bespreek.

"Die twee partye erken dat daar 'n behoefte aan 'n hegter vennootskap is ten einde die bes moontlike oplossing te vind vir die telekommunikasie-uitdagings wat die landelike gemeenskappe ervaar," sê mnr. Thinus Ferreira, voorsitter van Agri SA se infrastruktuurkomitee.

In hierdie verband is besluit om 'n nasionale werkgroep asook provinsiale werkgroepe daar te stel wat kwartaalliks sal vergader om verskeie uitdagings wat die landbougemeenskap op daardie vlakke ondervind, te bespreek.

"Ongelukkig voldoen die bestaande infrastruktuur in baie landelike gebiede nie aan moderne vereistes nie. Agri SA verstaan die frustrasie van die boergemeenskap in hierdie verband maar besef ook dat dit tyd sal neem om 'n moderne diens in alle landelike gebiede te vestig," sê Ferreira.

"Die grootste probleem wat Telkom ervaar met die daarstelling van 'n doeltreffende diens is die diefstal van hul koper toerusting, met inbegrip van kabels," se Ferreira.

25 April 2008