Suid-Afrika se voedselreuse het 'n ernstige beroep op die Regering gedoen om 'n meer landbouvriendelike beleidsrigting in te slaan om voedselproduksie aan te moedig en voedselsekuriteit te verhoog.
Dit is die eerste keer in Suid-Afrika se demokrasie dat die land se voedselsektor hom só eenparig oor 'n gunstiger landboubeleid uitspreek.
Dié belangwekkende wending kom ná 'n Nedlac-vergadering waaraan die land se grootste voedselwerkingsmaatskappye onder die vaandel van die SA Landbouverwerkingsvereniging deelgeneem het, en waar die erns van hoë voedselpryse indringend bespreek is.
Onder die vereniging se lede tel swaargewigte soos Astral Foods, Foodcorp, McCain Foods, Pioneer, Premier, Rainbow Farms, Tiger en SA Brouerye.
Die vereniging het terselfdertyd die Regering se reeds verklaarde besluit gesteun om nie in die prysvormingsmeganisme in die voedselketting in te meng nie.
Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende direkteur van die vereniging, het ná die Nedlac-vergadering gesê die land het meer geld nodig vir navorsing, voorligting, die verbetering van sy spoorstelsel, beter paaie, voldoende kragvoorsiening en opgradering van sy hawegeriewe.
"Die Departement van Handel en Nywerheid behoort ook sy tariefbeleid te hersien om 'n vriendeliker beleggingsomgewing in die landbou te skep."
Hy sê die Wêreldbank het erken hul befondsing aan landbouprojekte het afgeneem van 80% van totale lenings in 1980 tot 12% in 2007. 'n Soortgelyke neiging in Suid-Afrika is tans besig om die landbousektor se vermoë te belemmer om meer voedsel te produseer.
De Villiers het terselfdertyd gesê die vereniging steun die Regering se besluit om nie mielies (of selfs koring) vir biobrandstofproduksie te gebruik nie. "Dit is nie in belang van voedselsekuriteit in Suid-Afrika nie."
Die voedselverwerkingsektor steun ook Cosatu se versoek aan die Regering om maatskaplike toelaes te verhoog sodat die armstes van die armes voedsel kan bekom. "Ons verbind ons ook daartoe om saam met die Regering en die arbeidsektor oplossings vir hoë voedselpryse te vind."
De Villiers sê hulle het kennis geneem van 'n groot mielie-oes wat Suid-Afrika ongetwyfeld deur hierdie moeilike tye sal dra. "Ons verwag nie dat mieliepryse hoër as die huidige vlakke sal styg nie."
Swak weerstoestande in o.a. Australië, graan wat vir biobrandstof aangewend word, en die groei in China en Indië is volgens hom die hoofoorsake van die huidige hoë internasionale voedselpryse.
Daarbenewens was daar ook enorme stygings in internasionale skeepstariewe. "Drie jaar gelede het ons koring en mielies teen sowat $20/ton (skeepsvrag) ingevoer, vergeleke met vandag se $90/ton. Ons verspreidingskoste het ook weens die immer stygende brandstofpryse toegeneem."
25 April 2008