Landbou
Kleur pootjie wit boere
Deur JOHAN NORVAL

So lank as wat die regering van die dag na die landbou kyk en kleur raaksien, sal die wit landbouer nie sy regmatige plek in die Suid-Afrika se landboubestel inneem nie, sê mnr. Ernst Yzel, voorsitter van Aartappels SA.

Yzel, een van die oud-voorsitters van Vrystaat Landbou se jongboerkomitee 20 jaar gelede, het op die afgelope konferensie 'n beroep op die provinsie se jong boere gedoen om hulle bydrae te lewer om die beeld van die landbou en die blanke boer te verbeter. Hy sê landbougrond per se beteken nie rykdom nie, want kundigheid is nodig om rykdom daaruit te ontsluit.

Yzel sê dit is die plig van die landbouers wat die kennis van boerdery het, om te help met die suksesvolle vestiging van swart kommersiële boere. Vennootskappe is ook van uiterste belang in die proses, met die klem op deelname aan die georganiseerde landbou.

Hy sê landbougrond in Suid-Afrika is is nog betreklik goedkoop as grondpryse in ander ontwikkelende lande ter wêreld vergelyk word.

Yel het jong boere gemaan om na hulle werkers op die plase om te sien, anders sal die landbou met die krummels tevrede moet wees wanneer die ander bedrywe die beste werkers na die stede weglok. Hy het ook hom op die jong boere beroep om te help om 'n beter begrip vir die kommersiële boer te kweek sodat die boer se saak en sy stryd teen kostestygings beter deur die verbruiker verstaan word.

29 April 2008