Nadat Agri SA reeds vir meer as 'n jaar tevergeefs probeer om met mnr. Charles Nqakula, Minister van Veiliheid en Sekuriteit, oor landelike veiligheid te praat, gaan hulle nou pres. Thabo Mbeki oor boere se veiligheid nader.
Mnr. André Botha, voorsitter van Agri SA se reg-en-ordekomitee, sê dit is jammer dat Nqakula nog nie 'n datum beskikbaar kon stel vir 'n ontmoeting nie. Verskeie kwessies gaan nou in 'n memorandum aan Mbeki op die eersvolgende presidensiële werkgroepvergadering in Mei voorgelê word.
Agri SA wil onder meer weet watter vordering daar was met die samestelling van 'n koördinerende liggaam, onder beheer van die presidensie, om aksies oor landelike beveiliging te koördineer.
Mnr. Kobus Visser, direkteur van owerheidsdienste by Agri SA, sê daar was reeds op dié organisasie se kongres in 2006 'n resolusie hieroor. Mbeki het in sy Staatsrede vanjaar daarna verwys.
Volgens Agri SA was daar sedert 1991 reeds meer as 10 700 plaasaanvalle waartydens meer as 1 600 lede van die boeregemeenskap, ook plaaswerkers, vermoor is. Benewens hierdie syfers word die regstreekse koste van misdaad vir die landbou op meer 'n R1 miljard geraam.
Landbouweekblad, 9 Mei 2008