Landbou
Kabeldiefstal knou foondiens


Die internasionale handelsprys vir koper het die afgelope vyf jaar met 600% gestyg en dít het kabeldiefstal die afgelope drie jaar tot nuwe vlakke laat styg.

Mnr. Thinus Ferreira, voorsitter van Agri SA se infrastruktuurkomitee, sê uit 'n gesprek met Telkom oor probleme met telekommunikasie in landelike gebiede, het dit geblyk dat diefstal van kopertoerusting en -kabels die grootste probleem is. Hy sê met die hoër koperprys het misdaadsindikate en diewe die geleentheid aangegryp om hulself te verryk.

"Dit benadeel nie net die stabiliteit van die kommunikasienetwerk nie, maar die ekonomie in geheel. Agri SA steun Telkom in sy pogings om strenger wetgewing te beding om onwettige handel in koper hok te slaan."

Ferreira sê Agri SA en Telkom het erken dat daar 'n behoefte aan 'n hegter vennootskap is om die beste moontlike oplossings vir telekommunikasie-uitdagings in landelike gebiede te vind. Daar is besluit om 'n nasionale werkgroep asook provinsiale werkgroepe te vestig om kwartaalliks die verskeie uitdagings wat die landbougemeenskap ondervind, te bespreek.

Hy sê 'n doeltreffende telekommunikasie-infrastruktuur kan bydra tot groei en ontwikkeling in die landbousektor en landelike gebiede in die algemeen.

"Ongelukkig voldoen die bestaande infrastruktuur in baie landelike gebiede nie aan moderne vereistes nie. Agri SA verstaan die boeregemeenskap se frustrasies hieroor maar besef ook dat dit tyd sal neem om 'n moderne diens in alle landelike gebiede te vestig."

Landbouweekblad, 9 Mei 2008