Die Melkprodusente-organisasie het sy lede verteenwoordig by die onlangse vergadering oor hoë voedselpryse tussen die vakbond, Cosatu, die Regering, die georganiseerde landbou, voedselverwerkers en die kleinhandel.
Mnr. Etienne Terre' Blanche, besturende direkteur van die MPO, sê hy verwelkom enige optrede wat 'n positiewe bydrae tot die huidige stand van sake in die landbou sal meebring.
Hy sê die vergadering het egter 'n baie positiewe en openlike atmosfeer geskep vir direkte kommunikasie tussen die verskillende partye. Verteenwoordigers van die georganiseerde landbou kon verduidelik dat boere ook gebuk gaan onder skerp stygings in insetkoste.
Volgens Cosatu se eisskrif hou dié vakbond die hele voedselwaardeketting verantwoordelik vir die vlak van voedselprysstygings. Cosatu eis onder meer dat basiese voedsel, waaronder melk, se prys vasgestel word, en dat die Regering beheer neem van die prysvasstelling van brood, melk, mieliemeel en sommige groentesoorte.
Ander eise sluit die skorsing van uitvoerende beamptes van voedselverwante maatskappye wat hulle skuldig maak aan samespanning; die staking van buitensporige hoë winste en salarisse van maatskappye en hul bestuur; en 'n onmiddellike vermindering en staatsbeheerde vasstelling in die prys van basiese voedselsoorte, in.
Cosatu eis ook van die Minister van Finansies dat die 2009/10-begroting voorsiening maak vir 'n 20% toename in maatskaplike toelaes vir arm gesinne, en dat dit kinders tot en met die ouderdom van 18 jaar en mans bo 60 jaar insluit.
"Boere is onder groot druk om genoeg voedsel te produseer," sê Terre' Blanche. Hy sê die geraamde styging in insetkoste die afgelope jaar, bemoeilik die situasie aansienlik en beloop soveel as 100% tot 150% vir kunsmis, 80% vir voer en 60% vir brandstof. Bykomende prysstygings sluit verpligte loonverhogings, munisipale belasting en elektrisiteitskostes in.
"In teenstelling het produsentepryse met slegs sowat 40% oor dieselfde tydperk gestyg."
Hy waarsku egter teen uitlatings wat onredelike verwagtinge skep. "Prysbeheer en nasionalisering van die voedselbedryf, sal bloot verdere tekorte en nog hoë voedselpryse veroorsaak," het hy na afloop van die vergadering gesê.
Volgens Terre' Blanche word veral melkboere se winsmarge toenemend weggekalwe weens stygende insetkostes, en is die winssituasie in die primêre melkbedryf tans nie noemenswaardig nie. Te midde van 'n groeiende internasionale voedselkrisis, word die getal aktiewe melkboere in Suid-Afrika voortdurend minder.
"Boere kan dit tans nie bekostig om in hulle plase te belê nie. Aan die teenpool dring die Regering aan op 'n 15% groei in die landbou.".
Terre' Blanche sê die vergadering se deelnemers het besluit om weer binne 21 dae te vergader om samesprekings verder te voer.
Benewens die MPO, het verteenwoordigers van verskeie regeringsdepartemente, die National African Farmers Union, die Landboubesigheidskamer, Graan SA, die SA Landbouverwerkers-vereniging, die Rooivleisprodusente-organisasie, Agri SA en talle supermarkgroepe die vergadering bygewoon.
7 Mei 2008