Geskiedenis is vandeesweek gemaak toe mnre. Carl Opperman, hoof-uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap en Willie Williams, voorsitter van Nafu in die Wes-Kaap, hulle langs dieselfde vuur tuisgemaak het om te gesels oor 'n praktiese perspektief op grondhervorming en agri-ontwikkeling.
Williams veral het benadruk die verskillende unies moet kyk waar hulle kan saamwerk om "een sterk stem te vorm om met die Regering te praat".
"Ons moet kollektief bymekaar kom om te sien hoe ons die beste kan integreer om sterker te wees as unies," het hy aan boere en sakeleiers by Absa se AgriSEB-seminaar gesê. Die rol van handelsbanke in die bemagtigingsproses het onder die loep gekom.
Volgens Williams dra die tekort aan kapasiteit aan regeringskant en die feit dat daar nie integrasie tussen regeringsdepartemente is nie, by tot die mislukking van talle swart ekonomiese bemagtigingsprogramme.
Opperman meen Suid-Afrika kort 'n eenstop-diens waar opkomende boere by kundiges kan gaan aanklop vir finansiering, mentorskap en ander hulp. Hy het ook gesê prosesse moet in plek kom om swart mense wat "in hart en siel 'n boer is" vinnig te kan identifiseer.
7 Mei 2008