Sedert die demokratiese bestel in Suid-Afrika is die toestand van landbouvoorligting in die land 'n ernstige bron van kommer. 'n Regruk-aksie is dringend nodig om 'n krisis te keer, waarsku mnr. Mkhululi Mankazana, hoofdirekteur van sektorale dienste by die Departement van Landbou.
Hy het op die 42ste konferensie van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Landboutegnoloë (SAVLT) in Port Elizabeth gesê die gebrek aan vermoë by die meeste voorligters het tot gevolg dat die diens ernstige gebreke het.
Die amptenare is nie behoorlik opgelei nie en in talle gevalle oorwerk. Van die 2 155 landbouvoorligters het slegs 250 aangedui dat hulle rekenaargeletterd is, projekbestuur kan behartig en doeltreffend kan kommunikeer.
Slegs 19,8% van hulle het 'n graad. Gauteng het die meeste gegradueerdes in diens (75%), gevolg deur die Vrystaat (60%). Minder as 10% van die amptenare in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal het grade. Altesame 92,57% van die amptenare is swart, 5,5% is wit en bruin mense en Indiërs verteenwoordig onderskeidelik 1,9% en 0,03%. Slegs 27,4% van die voorligters is vroue. Sowat 73% van die voorligters se ouderdom wissel van 36 tot 55, terwyl 7,1% ouer is as 55 jaar.
Indien die mikpunt bereik wil word om vir elke 500 boere in die land 'n voorligter in diens te hê, sal dit beteken dat 'n verdere 5 500 voorligters aangestel moet word.
Landbouweekblad, 16 Mei 2008