Die prys van brood kan nog styg, maar dit sal nie van dieselfde omvang as die afgelope paar maande wees nie, sê mnr. Jannie de Villiers, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Landbouverwerkersvereniging.
Hy sê die grootste styging in die prys van koring is al deurgegee en die broodprys weerspieël nou 'n koringprys van sowat R3 800 per ton. Hy sê faktore wat nog die prys kan beïnvloed, is brandstofkoste, verhogings in elektrisiteitstariewe en loonverhogings.
Volgens Statistieke Suid-Afrika se syfers het die prys van witbrood van R4,98 in Januarie verlede jaar tot R5,89 in Januarie vanjaar gestyg. Die prys van 'n kilogram broodmeel het in die dieselfde tyd van R5,44 tot R6,36 gestyg.
Volgens 'n peiling laat verlede jaar kos brood die meeste in Wenen, Oostenryk. Die gemiddelde prys vir 'n brood daar is R62,66 teenoor die R8,16 vir 'n brood in Pretoria.
In Moskou (Rusland), kos 'n brood gemiddeld R52,12, in New York (Amerika) gemiddeld R50,04, in Parys (Frankryk) gemiddeld R46,77, in Londen (Brittanje) gemiddeld R21,53 en in Kaïro (Egipte) gemiddeld R12,77.
Landbouweekblad, 16 Mei 2008